University of Pretoria English  |   Afrikaans
Elektriese, Elektroniese en Rekenaar-Ingenieurswese
Operasionele / Interne Tuisblad

Dames in Ingenieurswese

Terug na tuisblad

Uit die oogpunt van 'n damesingenieur…

In teenstelling met wat baie mense dink, is ingenieurswese 'n uitstekende beroep vir dames. Ingenieurswese is vir die selfstandige, kreatiewe en intelligente persoon wat graag 'n konstruktiewe bydrae tot die ontwikkeling van ons land en die gemeenskap wil lewer. Dames het 'n verantwoordelikheid en 'n baie belangrike rol om te speel in hierdie ontwikkelingsproses.

Hoekom sou 'n dame ingenieurswese as beroep kies?

Ingenieurswese is opwindend! Vir die ingenieur is die hele wêreld een groot speelgoedkas. Die ingenieur is altyd besig om te ontdek en uit te vind hoe en hoekom goed werk. Om toepassings vir hierdie voortdurend-toenemende, nuutgevonde kennis te vind of uit te vind, is selfs nog 'n groter uitdaging.

Dames is van nature kreatief en skeppend. Ingenieurswese ook. Ingenieurswese bied die geleentheid om hierdie eienskappe konstruktief in diens van ons land en die gemeenskap aan te wend.

Ingenieurswese bied onafhanklikheid. As ingenieur kan 'n dame baie maklik haar eie besigheid van die huis af bedryf of konsultasie werk vir firmas tuis doen. Ingenieurswese skep dus entrepreneurs.

Ingenieurswese is intellektueel stimulerend. Ingenieurswese is nie “grease monkey”-werk nie. Inteendeel, ingenieurs vind praktiese oplossings vir probleme deur van gereedkap uit die natuurwetenskappe (soos bv. wiskunde en fisika) gebruik te maak. En buitendien, wie het gesê dames kan nie 'n soldeerbout hanteer wanneer dit die dag nodig is nie?

Ingenieurswese bied hoë inkomstepotensiaal. Ingenieurswese bied die geleentheid om as eienaar van 'n firma 'n hoë inkomste te verdien. Verder bied dit ook die geleentheid om werk en welvaart te skep wat 'n belegging in ons land se sosiale en ekonomiese ontwikkeling is.

Nog nie oortuig nie? Kontak een van die damesingenieurs in die Departement:
Prof Tania Hanekom
Me Magdaleen Snyman